Skotse nasionale rugbyspan

Skotland
Unie Skotse Rugbyunie (SRU)
Bynaam(e) die XV van die dissel
Embleem Dissel
Stadion Murrayfield-stadion, Edinburg
Kapasiteit 67 144
Afrigter(s) Vlag van Skotland Gregor Townsend (sedert 2017)
Kaptein(s) Finn Russell en Rory Darge
Spankleure


Alt. kleure

Statistiek
Meeste toetse Ross Ford (110)[1]
Meeste punte Chris Paterson (809)[2]
Meeste drieë Stuart Hogg (27)[3]
Eerste internasionale wedstryd
(ook die wêreld se eerste)
Vlag van Skotland Skotland 1–0 Engeland Vlag van Engeland
(Edinburg, Skotland; 27 Maart 1871)
Grootste oorwinning
Vlag van Skotland Skotland 100–8 Japan Vlag van Japan
(Perth, Skotland; 13 November 2004)
Grootste nederlaag
Vlag van Skotland Skotland 10–68 Suid-Afrika Vlag van Suid-Afrika
(Edinburg, Skotland; 6 Desember 1997)
Wêreldbeker
Verskynings 10/10 (Eerste in 1987)
Beste uitslag Vierde plek in 1991
Unie webwerf
www.scottishrugby.org

Die Skotse nasionale rugbyspan (Engels: Scotland national rugby union team; Skots-Gaelies: Sgioba nàiseanta rugbaidh na h-Alba) is die nasionale rugbyspan wat Skotland tydens internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Rugby word in Skotland deur die Skotse Rugbyunie (Scottish Rugby Union, SRU) geadministreer. Skotland neem jaarliks aan die Sesnasies-toernooi deel, saam met Engeland, Frankryk, Ierland, Italië en Wallis. Skotland is ook een van die lande wat deel uitmaak van die Britse en Ierse Leeus – spelers wat vir Skotland mag speel mag dus ook gekies word vir die Leeus.

Skotland se belangrikste internasionale verskyning is tydens die vierjaarlikse rugbywêreldbekertoernooi wat sedert 1987 beslis word. Sedert die eerste Rugbywêreldbekertoernooi in 1987 het die span aan al tien toernooie deelgeneem. Hulle beste uitslag was in 1991 toe Skotland die klein finale om die derde plek teen die Nieu-Seelandse All Blacks verloor het.

Skotse rugby dateer terug na 1871 toe Skotland Engeland in die eerste internasionale rugbywedstryd op Raeburn Place verslaan het. Sedert die voorganger van die Vyf- en Sesnasies-toernooi, die Tuisnasies, in 1883 ’n aanvang geneem het, is die span 15 keer as die kampioen gekroon – insluitend in die laaste Vyfnasies in 1999 – en het nog nege ander kere die titel gedeel. Sedert Italië in 2000 by die kompetisie aangesluit het om die Sesnasies te vorm, het Skotland nog nie ’n titel verower nie. Daar is nog altyd strawwe wedywering tussen Skotland en hul Britse buurland Engeland. Skotland ding as deel van die Sesnasies-toernooi met England om die Calcuttabeker mee, die oudste trofee in rugby.

Skotse spelers dra tradisioneel donkerblou truie, wit broeke en blou kouse. Die span se tuisstadion is Murrayfield in Edinburg waar hulle vir die eerste keer in 1925 gespeel het. Veral tydens tuiswedstryde skep die Skotse aanhangers, ondersteun deur tradisionele doedelsakke, ’n unieke atmosfeer wanneer hulle The Flower of Scotland sing. Die beheerliggaam Wêreldrugby beskou Skotland as ’n vlak-een rugbynasie. Tien voormalige Skotse rugbyspelers is in Wêreldrugby se Heldesaal opgeneem. Skotland is tans (Maart 2024) sesde op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys.[4]

  1. (en) "Most matches". ESPNscrum. Besoek op 18 Maart 2024.
  2. (en) "Most points". ESPNscrum. Besoek op 18 Maart 2024.
  3. (en) "Most tries". ESPNscrum. Besoek op 18 Maart 2024.
  4. (en) "World Rankings". Wêreldrugby. Besoek op 18 Maart 2024.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search